Riëtte en Kobus Koegelenberg voor hulle na hul 250ste wedstryd van die Stormers gaan kyk het.


Al was dit nie vir die Stormers beskore om Saterdag die Haaie ore aan te sit nie, het ’n egpaar van Kleinmond die land se aandag getrek met hul liefde vir die Streeptruie.

Riëtte en Kobus Koegelenberg van Kleinmond woon die afgelope 20 jaar in dié mooi kusdorpie en het al jare lank sosiale media en die koerante op hol oor hul passie vir rugby en liefde vir die Stormers. Hulle het hul 250ste agtereenvolgende tuiswedstryd gaan kyk en het spesiale uitrustings vir die geleentheid gemaak. Op ’n vraag waarom hulle so passievol is oor rugby – en veral die Stormers – vertel sy: “Ons was nog altyd groot Stormers-ondersteuners. Party mense hou van visvang; ons hou net van rugby en veral die Stormers.”

Hulle is so lief vir die span dat hulle selfs soortgelyke tatoes het met die woorde “We stand together”, wat ook die slagspreuk van die Stormers is. Selfs hul huis in Kleinmond staan bekend as die “WP-huis”.

Oor die feit dat die Stormers Saterdag die knie moes buig, lag sy net: “Met ons 100ste, 150ste, 200ste en nou 250ste wedstryd het die Stormers elke keer verloor, maar ek gee nie om nie – my hart bly by my span.”

Een van die hoogtepunte van hul 250 ste wedstryd was toe hulle saam met die spelers in die kleedkamer was.

“Dit is vir ons ’n belewenis en altyd lekker om die spelers te ontmoet. Ons sal altyd Stormers bly – dit is wie ons is en ons is trots op ons span, al verloor hulle,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.