Wyk 4 se raadslid en wykskomiteelede by die Caledon-parkrun. Van links is George Rhode, Lizël Kimber, Marlene Rousseau, Stephen Wildschut, raadslid Yvonne van Tonder, Mitzi Buys en Tanya Bippert.


Elke wyk in ’n munisipaliteit het ’n verkose raadslid wat die bepaalde wyk op munisipale raadsvergaderings verteenwoordig. Elke wyk het ook ’n wykskomitee met die raadslid as voorsitter en wykskomiteelede wat verskillende sektore soos, onder meer, toerisme, media, godsdiens en sport verteenwoordig.

Sake rakende die gemeenskap word by gereelde wykskomiteevergaderings bespreek en deur middel van die raadslid aan die raad oorgedra. ’n Voorbeeld hiervan is die onlangse suksesvolle verskuiwing van die bushalte vir langafstandbusse van Prins Alfredweg na ’n vulstasie aan die buitewyke van die dorp, waar baie meer plek is vir die busse om stil te hou asook die nodige ablusiegeriewe vir die reisigers beskikbaar is. (Een kleiner busmaatskappy het nog nie gehoor gegee aan die verandering nie.)

Terugvoervergaderings van ’n bepaalde wyk, wat deur die raadslid, die wykskomitee en amptenare van die munisipaliteit bygewoon word, word gereeld gehou. Hierdie vergaderings is oop vir inwoners van die betrokke wyk en dit is ’n gulde geleentheid om hul griewe te lug en vrae te vra.

Wyk 4 se raadslid, Yvonne van Tonder, asook lede van die wykskomitee, het op Saterdag 16 November aan die Caledon-parkrun deelgeneem. Dit was nie net ’n lekker sosiale samekoms nie, maar ook ter ondersteuning van die gewilde parkrun, wat elke Saterdagoggend om 08:00 by die Caledon-gholfbaan plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.