Die Hoofweg van Hermanus was vandag (10 Januarie) gesluit nadat inwoners
van Zwelihle ‘n vreedsame optog na die Hermanus-polisiekantoor gehou het nadat
vyf inwoners na bewering siek geword het toe hulle glo alkohol en kos van ‘n “wit persoon” gekry het.
Een van die inwoners is later in die polisiekantoor oorlede
en ‘n geregtelike nadoodse ondersoek is ingestel. Kapt. Fadila September,
woordvoerder van die Hermanus-polisie het die voorval bevestig en dit duidelik
gestel dat twee persone na die polisiekantoor geneem is nadat hulle onder die
invloed van alkohol was. “Ongelukkig is een van die persone in die
polisiekantoor dood en die ander persoon is dadelik na die Hermanus-hospitaal
geneem. Hy is binne ‘n uur ontslaan,” het sy vertel. “Nog niemand is in hegtenis
geneem oor die voorval nie”.
Inwoners het Sondag (8 Januarie) ook ‘n optog na die polisiekantoor gehou
en ‘n memorandum aan die waarnemende stasiekommissaris, lt.kol. Desmond Fortuin,
oorhandig. “Die optog was vreedsaam en nadat die memorandum oorhandig is, het
hulle verdaag,” aldus September. Volgens September is ‘n lykskouing op 9
Januarie gehou en die inwoners het weer ‘n optog op 10 Januarie na die
polisiekantoor gehou vir die uitslag van die lykskouing. “Daar was geen teken
van vergiftiging nie,” het September vertel.
Volgens ‘n persverklaring deur die Land Party wat op WhatsApp-groepe
en sosiale media versprei is, eis hulle dadelik optrede deur die polisie. “Die Land
Party veroordeel die aksie van ‘n wit persoon nadat hy alkohol aan inwoners gegee
het. Ons is teleurgesteld in die swart mense van Hermanus aangesien ons hulle
al voorheen gewaarsku het om nie kos en drank van wit mense te neem nie
aangesien die meerderheid wit mense in Hermanus ongelukkig is oor die swart
mense in die kusdorp. Ons vra weer vir die swart mense om nie kos en drank van
wit mense te neem nie aangesien hulle ontevrede is omdat ons die spogerwe voor teen
die see het,” aldus die persverklaring deur die Land Party.
Dit het behoorlik op sosiale media gegons oor die Hoofweg
wat vir ‘n tyd gesluit is. Van die Facbook-gebruikers het hul ontevredenheid
uitgespreek oor die lede van die Land Party wat ‘n skrikbewind in die dorp voer.
Ander voel weer ontevrede oor die feit dat die Land Party die dorp ontwrig en daar
word niks aan hulle gedoen nie.
Volgens September was die optog vandag ook vreedsaam en is
daar geen voorvalle aangemeld nie.